Resensie deur Martie Bester

Baanbrekersrolprent oor plaasmoorde

Die feit dat Treurgrond die eerste Suid-Afrikaanse rolprent is wat plaasmoorde aanspreek, en dat die regie behartig word deur Darrell Roodt, bekend vir onvergeetlike werk soos Sarafina! Cry, the Beloved Country en Little One, is insiggewend en indrukwekkend.
Eers 25 jaar nadat plaasmoorde in Suid-Afrika begin kop uitsteek het, word hierdie onderwerp uiteindelik op die skerm uitgebeeld deur ‘n brawe span wat die wreedheid daarvan doeltreffend uiteensit, maar ook die ongeloof, onregverdigheid en vrees wat gepaardgaan met hierdie geweld.
Die openingstoneel, hartverskeurend, is uitstekend verfilm en spring onmiddellik weg met die eerste deel van die rolprent se titel ‘treur’. Die verdriet en ‘om bedroef te wees’ word spannend en kloustrofobies uitgedruk – en daar is nie ruimte vir enigiets behalwe smart nie.
En dan, kort daarna beweeg die rolprent na ‘grond’ – die liefde daarvoor, die toewyding, die kennis en ontsag as Lukas van Staden, meesterlik vertolk deur Steve Hofmeyr (Platteland, Pretville) ‘n klont aarde in sy hande hou, dit na aan sy gesig bring, soos ‘n geliefde.
Dis ‘n byna intieme oomblik tussen boer en grond, in sy hande, naby sy gesig, oral om hom én sy getroue plaaswerker en vriend, Daniel Lebona, gespeel deur Boikie Pholo (Pad na jou Hart, Ballade vir ‘n Enkeling), uitstekend in sy rol.
Wanneer Daniel se seun, Edwin, wat oortuigend deur Graeme Kriega vertolk word, woedend opdaag met velle papier vol haat, vee hy minagtend die grond van sy blink stadskoene af. Dié toneel laat ‘n mens gekwes – en na dit, amper soos ‘n trapsuutjies beweeg ‘n mens verder saam met die karakters, terwyl die onweerswolke saampak op die skerm.

‘n Smeekroep

Die eerste nabyskoot van Hofmeyr se gesig is een van die treffendste tonele in die rolprent – die bekommernis word, soos net ‘n gesoute regisseur kan, uitgedruk in sy gelaatstrekke, sy helder oë en die strak trek van sy mond.
Later, wanneer die kamera weer op dieselfde wyse op hom fokus, in ‘n veel ander konteks, kan sy vermoë as akteur nie betwyfel word nie. Die rol van Lukas kon nie deur iemand anders vertolk word nie. As akteur bring Hofmeyr diepte en deernis na die skerm, en is sy vertolking een van die sterkstes in Afrikaanse rolprente hierdie jaar.
In breë trekke, en sonder om enigiets te verklap, handel die rolprent oor ‘n boer en sy vrou Nellie, wat deur Erica Wessels (Die Wonderwerker, Alles Wat Mal Is) vertolk word. Wessels lewer soos altyd uiters goeie spel, hoewel daar nie veel ruimte is vir haar karakter om te ontwikkel nie.
Maar behalwe vir die Van Stadens, gee Treurgrond ook ‘n stem aan die boerderygemeenskap as ‘n geheel wat nie kan ontsnap van plaasmoorde en grondeise nie – dit vreet aan hul binneste, maar hul is te trots om die pyn aan hul families te verklap. Hulle wil net boer, ten spyte van die wete dat pangas en AK47’s hul afmaai.
Jana Strydom, wat te sien was in Konfetti, Verskietende Ster, Rose vir Rosie en Leading Lady, is asemrowend in haar uitdagende rol as die hardekoejawel Kaptein Helena Schoeman. Sy gryp haar karakter aan die strot en laat nooit gaan nie – dit is weer eens bewys dat sy ‘n puik, veelsydige aktrise is.
Saam met die plaasmoord-groentjie, Luitenant Morena (wat terloops ‘leier’ of ‘baas’ in Tswana beteken), knap vertolk deur Richard Lukunku, bekend vir Flight of the Storks, Night Drive, Black Sails en Superhelde, besoek hul misdaadtonele en probeer (sonder veel sukses) om skuldiges vas te trek. Hoewel Schoeman Morena daaraan herinner dat sy maag sterker moet word, en sy hart harder, stoei sy self met duiwels as die son sak.
Barbara-Marie Immelman as Christa van Staden (Lukas se skoonsuster) en Andre Frauenstain as Andre, Lukas se ‘kleinboet’, pak hul rolle met passie aan en hul spel in veral die openingstoneel, verdien erkenning.

Bewusmaking eerder as antwoorde

Treurgrond probeer nie om antwoorde te bied op plaasmoorde nie, of om te verduidelik waarom hulle plaasvind nie, maar poog eerder om die sinneloosheid en wreedheid daarvan uit te beeld, asook om ‘n groter bewusmaking daar te stel.
Darrel Roodt gaan nie katvoet te werk met die uitbeelding van die moorde op die skerm nie, en ontwyk nie die waarheid omdat dit ‘ongemaklik’ is nie. Deur sy lens sien ons hoe boere, hul vrouens, kinders en soms plaaswerkers op onverstaanbare maniere bloedstollend vermoor word.
Deurentyd is die moordenaars gesigloos, want in hoeveel gevalle word hulle vasgetrek en hul identiteite bekend gemaak? In Treurgrond, soos in die werklikheid, skuil hul in die skaduwees, en laat net hul grudade agter.
Moord ken nie kleur nie
As Treurgrond deur enigiemand as rassisties beskou word, moet ek benadruk dat dit glad nie my ervaring was nie. In ‘n toneel waartydens ‘n vergadering plaasvind waar die boere weer eens hul misnoë en frustrasie uitdruk ná die wrede moorde op Thys en Bettie Botha, word gesê dat “elke moord in hierdie land onverskoonbaar is”. Maar in die werklikheid, indien hierdie moorde, wat nie behoorlik deur die regering aangespreek word nie, voortduur, is dit tog onafwendbaar dat rassehaat aangewakker gaan word.
Tydens ‘n onderhoud wat Danie Marais op 26 Mei 2015 met Roodt gevoer het (en wat op die webtuiste Litnet gepubliseer is), spreek die regisseur sy verbasing uit dat hierdie die eerste rolprent oor plaasmoorde is. Hy sê “toe dit vir my aangebied is, het ek die geleentheid aangegryp om die huidige (politieke en sosiale) landskap van hierdie karakters te verken.”
Hy erken self dat die fliek ‘n ‘hot potato’ is en dat Hofmeyr in die rolverdeling as regse propoganda beskou kan word, maar beklemtoon dat Treurgrond meer kompleks is as ‘n oppervlakkige beskouing bloot omdat Hofmeyr daarin verskyn.
Roodt benadruk egter dat ons ons reënboognasie in die steek laat, nie slegs oor plaasmoorde nie, maar vanweë ons houding; dat ons medelye moet hê teenoor almal en nie net teenoor sekere groepe wat misdaadslagoffers is nie.

Sensitief en meesleurend

As ‘n geheel, is die tonele uitstekend uiteengesit, is daar pragtige skote van die landskap, sensitiewe kinematografie en meesleurende musiek, perfek gekomponeer deur die talentvolle Geo Höhn – en dit dra alles by tot die rolprent se seldsame trefkrag.
Plek-plek was die rolprent wel te donker en die redigering rukkerig, maar dis nie uitermatig steurend nie. Die produkplasing is onmoontlik om te mis, en hoewel dit aanvanklik effens pla, twyfel ek of dit gehore enigsins gaan opval.
Dis spyt dat Treurgrond nie ‘n wyer verspreiding in teaters het nie, en waarskynlik nie lank op die kringloop gaan wees nie. Dit is ‘n rolprent wat, volgens my, ook by Cinema Nouveau moes wys, dit verdien ‘n groter gehoor. Ek is oortuig dat elke Suid-Afrikaner, sonder vooroordeel, hierdie rolprent moet sien.

Treur/Grond

Wanneer die laaste boere verdwyn, as hul onwrikbare geloof in God, hul sin vir gemeenskapsbewaring, die belangrikheid wat hul heg aan tradisie, geskiedenis en familie ook uitgewis word, waar gaan die kos op ons tafels vandaan kom, wie gaan die plase koester en bewaar, wie gaan lief wees vir die grond? En wie gaan dan treur?
Suid-Afrika, jy is nie gesond nie.

Resensie deur Martie Bester | www.bioskoop.co

 

 

About the Author:


Leave a Comment!

Your email address will not be published. Required fields are marked *